|
Griep: Van waar Gehasie?
Dr. Buks Meiring
Ons almal ken griep en sy
jaarlikse besoek aan ons in die wintermaande, maar waar kom dit vandaan? Hoekom
moet ons jaarliks ons griep inspuiting kry en wat van 1918 se Groot Griep en kan
dit weer gebeur?
Griep is bekend vanaf die
vroegste tye. Die eerste griep epidemie is deur Hippocrates opgeteken in 412 VC
en sederdien is vele epidemies en pandemies aangeteken. { Epidemie – Infeksie
wat beperk is tot ‘n enkele kontinent. Pandemie – Infeksie wat versprei oor meer
as een kontinent}.
Wat veroorsaak griep?
Griep word deur ‘n virus
veroorsaak. In die familie griep virusse is daar 3 aparte groepe wat dieselfde
griep simptome veroorsaak. Hulle word eenvoudig genoem Groepe A, B en C. Groep A
kom voor by mens en diere maar groepe B en C slegs by die mens. Die diere waarby
groep A griepvirus ook in voorkom is in varke, eende, kalkoene en perde.
Waar kom die name van
die griepvirusse vandaan en hoe werk die inentings?
Die WGO {Wêreld
Gesondheids Organisasie} het laboratoriums regoor die wêreld wat voordurend die
voorkoms van nuwe griep virusse monitor. Die laboratorium wat ‘n nuwe griepvirus
variant die eerste geidentifiseer het se naam word dan gebruik as deel van die
naam van die virus. Die 3 virusse waarteen daar vanjaar ingeënt word se name is
as volg:
·
A/New
Caledonia/20/99
·
A/Fuijian/411/2002
·
B/Hong
Kong/330/2001
Die naam klink baie
indrukwekkend maar is eindelik baie verduidelikend. Bv. Vir A/New
Caledonia/20/99
A
staan vir die groep waaraan die virus behoort bv A, B of C
New Caledonia
staan vir die laboratorium waar die virus die eerste gekweek is.
20
is ‘n nommer wat aan die spesifieke virus in die laboratorium toegeken is
99
is die jaar waarin die spesifieke virus die eerste keer geidentifiseer is.
Dit is dus intressant om
te sien dat die Fuijan virus die eerste keer in 2002 geidentifiseer en gekweek
is en dus die nuutste van die groep is. Daar word dus verwag dat dit dan ook ‘n
groot aantal infeksies sal veroorsaak aangesien daar nog nie veel immuniteit
teen die spesifieke virus is nie.
Die inhoud van die
griepinentings veskil van jaar tot jaar. Die WGO bepaal die 3 algemeenste
virusse in elke halfrond {Noord en Suid} en sluit dit dan in die griep inenting
vir die jaar in. Vir 2003 was die Hong Kong en New Caledonia virusse ook
ingesluit maar die Fuijan virus het in 2004 bygekom.
‘n Griepvirus, veral die A
en in ‘n mindere mate die B groepe, is uiters skelm in die sin dat hulle hul
oppervlak gereeld verander. ‘n Virus lyk soos ‘n ronde speldekussing met
ongeveer 500 punte wat uitstaan vanuit sy doppie. Al wat die virus hoef te doen
is om die volgorde van die ‘spelde’ te verander wat dan veroorsaak dat die
liggaam die virus nie herken nie. Indien dieselfde virus dan weer die liggaam
infekteer veroorsaak dit weer griep simptome. Daarom is griep inentings jaarliks
nodig. Daar is egter ‘n gevaarliker speletjie wat die virusse speel. Ongeveer
elke 10 tot 40 jaar verander die dop van sommige van die virusse heeltemal en ‘n
totale nuwe virus ontstaan waarteen niemand weerstand het nie. Die virusse
veroorsaak dan pandemies die hele wêreld oor wat miljoene mense dood.
Voorbeelde van sulke
pandemies is die 1918 - 1919 griep wat ook as die Spaanse griep bekend gestaan
het. Die nuwe virus het gou versprei en tussen 20 en 40 miljoen mense gedood.
Latere kleiner epidemies is die Asiese Griep, Hong Kong Griep en die Russiese
Griep vaarvan die eerste 2 ook ‘n miljoen mense gedood het.
Waar kom al die virusse
dan vandaan?
Daar is gevind dat die
meeste van die nuwe variante van griep virusse vanuit die suide van China
ontstaan. Die moontlike rede daarvoor is baie intressant. Daar word gereken dat
die veranderinge in die ‘spelde’ van die virusse in eende en kalkoene ontstaan.
Die varke van die boere in die suide van China wei dan bedags tussen die eende
in die ryslande en doen dan sodoende die virus infeksie op. Die varke slaap dan
snags in die boere se huise en so word die infeksie dan oorgedra van diere, waar
die veranderde virus gevorm word, na die mens.
Dit is dus duidelik dat
dit baie belangrik is dat soveel as moontlik mense hul griepinspuitings jaarliks
neem want hoe minder siek word hoe minder virusse word versprei en hoe kleiner
sal die impak van die v irus wees.
Na 2500 jaar sit die virus
ons nog gereeld ore aan!! |