Home Calvinia Citrusdal Clanwilliam Doring Bay Elands Bay Graafwater Hondeklip Bay Klawer Lamberts Bay Lutzville Nieuwoudtville Port Nolloth Redelinghuys Springbok Strandfontein Vanrhynsdorp Vredendal

Afrikaans
Agri Discussion
Beauty
Classifieds
Contact us
Current Affairs
Education
Feedback
Food
Health
Info
Money
News
Property
Shopping
Sport
Wine
Calendar
Rittelfees
Weather
Vrede Visplaas

 

GERAAS

DIE GEMEENSKAP het die volste reg om te kla oor oormatige geraas en klankbesoedeling. “Ons moet onsself deur bestaande wetgewing bemagtig en dié probleem met oorgawe bestry – oormatige geraas is deesdae veral in woonbuurte toenemend ‘n probleem,” skryf me. A van Lill.

Geraas en klankbesoedeling veroorsaak nie net onmin tussen ouers, kinders, vriende en bure nie. Dit is ook die oorsaak van verskeie siektes soos hoë bloeddruk, stress, slaapsteurnisse én doofheid. Van Lill sê: “Geraas is uiters skadelik vir babas en bejaardes.” Sy meen dat geraasbesoedeling die gemeenskap die reg tot ‘n vreedsame omgewing ontneem. Klank-irritasievlakke van mense verskil – net soos die vermoë om hitte of koue anders te kan “voel”, verskil dít ook van mens tot mens. Die liggaam het ‘n wonderlike klank waarnemingstelsel. Dit bestaan uit ongeveer 20 000 haarselle in die binne-oor. Wanneer dié stelsel beskadig word, word ‘n onbetroubare boodskap na die brein gestuur. Die gemeenskap word daagliks sonder om dit te besef aan onaanvaarbare hoë vlakke van geraas blootgestel.

Dit is interessant om te verneem dat die Vrystaatse provinsiale regering in 1998 regulasies onder die Wet op Omgewingsbewaring (73/1998) uitgereik het. Volgens dié regulasie (nommer 24) is oormatige geraas én klank onwettig.

Luidens berigte kan oortreders tot R20 000 beboet óf twee jaar gevangenisstraf opgelê word. ‘n Eienaar van die eiendom waar die geraas veroorsaak word, kan dus kragtens die genoemde regulasies vervolg word én die polisie kan op die klanktoerusting beslag lê.
Volgens kenners word geraasbesoedeling omskryf as enige geraas wat 85 desibels oorskry.

Dit is snags meer steurend as bedags, omdat dit met die nagstilte meeding. Geraas is dus enige klank wat die breë gemeenskap se vrede versteur. Niemand mag musiek instrumente bespeel óf klanktoerusting gebruik wat besoedeling veroorsaak nie.

‘n Groot euwel is ope-lug musiekkonserte. Organiseerders moet skriftelik toestemming van die stadsraad verkry alvorens só ‘n geleentheid mag plaasvind. Dié konserte mag nie later as 24:00 duur nie. Dit is egter kommerwekkend dat ‘n aantal klankversterkers soms by dié geleenthede op mekaar gestapel word.
Me. Alet Pitchers van Bloemfontein beywer haar sedert 2000 om die gevare van geraas onder die aandag van die gemeenskap te bring – sy is ‘n ware kampvegter vir die beskerming van gehoor. “Die onbetrokkenheid van die gemeenskap is egter verstommend,” sê sy.

Geraas kan binne enkele minute onherstelbare skade aan die mens se gehoor veroorsaak. Luidens berigte kan die harde musiek waaraan passasiers in sommige taxis blootgestel word, binne 8 sekondes doofheid veroorsaak. Gehoorverlies is egter in die meeste gevalle progressief van aard – mense is nie altyd bewus van die aard van die beskadiging nie.

Daar bestaan kommer oor die gevolge van gehoorverlies – veral by jongmense en kinders. Dit wil voorkom asof die oorverdowende geraas in winkelsentrums, restaurante en by skole tydens fondsinsamelingsveldtogte, gelate deur die gemeenskap aanvaar word.

Die nadelige gevolge van die gebruik van klappers, tromme, geraashorings by byeenkomste moet na vore gebring word. Is die owerhede bereid om die neergelegde regulasies af te dwing?

Die Wêreld Gesondheidsorganisasie beweer dat nagenoeg 10% van die gemeenskap gehoorverlies ervaar. Luidens berigte ervaar nagenoeg vier miljoen mense in Suid-Afrika meer as 25 desibels verlies in beide ore.

Kenners meen dat die onsensitiewe optrede van belanghebbendes, ‘n bydrae lewer tot die skep van ‘n hardhorende gemeenskap.
 


GERAAS 2.
 
Dit wil voorkom asof oorverdowende geraas in winkelsentrums, restaurante én by skole tydens geldinsamelingsveldtogte, gelate deur die gemeenskap aanvaar word. Die nadelige invloed van klappers, tromme en geraashorings word nié altyd besef nie.    
 
“Alle belanghebbendes moet die neergelegde regulasies in ag neem,” sê mnr. Deon Ceronio, ‘n oudioloog van Bloemfontein. Ceronio spesialiseer in die bepaling van gehoorverlies en is ‘n verskaffer van ‘n reeks hulpmiddele vir mense wat gehoorverlies ervaar.
 
Geraas is gevaarlik, aangesien dit permanente skade aan veral die binne-oor kan veroorsaak. Ceronio vergelyk die binne-oor met ‘n mat in ‘n gang. Hoe meer mense daarop loop, des te vinniger word dit uitgetrap. Hy sê ‘n mat in ‘n gang kan egter vervang word, maar die beskadiging van gehoor is in die meeste gevalle onomkeerbaar.
 
Alle klanke hoër as 85 desibels is skadelik vir die mens se oor. Die blootstelling aan klanke hoër as 110 desibels kan binne 15 minute permanente skade veroorsaak. Die beskadiging van die gehoorsenu is moeilik waarneembaar. In die meeste gevalle word aanvanklik slegs ‘n suisgeluid ervaar. Hoewel die gesuis met verloop van tyd verdwyn, is dit ‘n duidelike aanduiding dat die gehoorsenu wél beskadig is.
 
Die waarneming van klank is deel van menswees én die omgewing. Die vastelling van geraasvlakke in desibels, gee ‘n mens stof tot nadenke. ’n Sagte klank soos fluister is 15 desibels, ‘n normale gesprek 60 desibels én straatgeraas wissel tussen 70 en 90 desibels. Die “geraasvlak” van ‘n grassnyer is nagenoeg 90 desibels, ‘n boeing wat opstyg 140 desibels én musiek-konserte deurgaans hoër as 120 desibels. ‘n Geweerskoot en vuurwerke (140 desibels) is uiters gevaarlik én skadelik vir die mens se gehoor.
 
By volwassenes is daar ‘n aantal gevaartekens wat dui dat ‘n betrokkene wél gehoorverlies ervaar. Ceronio sê: “Diegene wat dit moeilik vind om gesprekke in die teenwoordigheid van agtergrondgeraas te volg, die televisie of radio deurgaans harder moet stel, probleme ervaar om ‘n telefoon, kriek of deurklokkie te hoor, moet beslis hul gehoor laat toets.” Gehoorgestremdes verkeer soms onder die wan-indruk dat mense mompel en/of onduidelik praat. Omdat hulle dit moeilik vind om gesprekke te volg, word gesellighede, vergaderings, sportbyeenkomste en eredienste eerder vermy.
 
Die volgende faktore moet in gedagte gehou word om gehoorverlies vroegtydig by kinders waar te neem: ‘n familiegeskiedenis van gehoorverlies, gereelde oorpyn en/of -ontsteking, ‘n verkorte aandagspan, kleuters wat op ‘n latere ouderdom begin praat en/of opdragte onbevredigend uitvoer – veral as daar geen oogkontak is nie. Die verkeerde uitspraak van woorde én onnatuurlike optrede in ‘n omgewing met hoë vlakke van agtergrondgeraas (soos byvoorbeeld in ‘n motor). Wees ook op die uitkyk vir kinders met spelprobleme, wat harder as gewoonlik praat én wat dit moeilik vind om die rigting van klank waar te neem.
 
Sommige vorme van gehoorverlies kan deur middel van chirurgie herstel word. In ander gevalle kan ‘n gehoorapparaat met groot sukses gebruik word. Oudioloë doen ‘n reeks toetse om die aard van die probleem én oplossings te bepaal. “Gehoortoetse kan reeds suksesvol kort ná geboorte (72 uur) gedoen word,” sê Ceronio.
 
Die Wêreld Gesondheidsorganisasie beweer dat nagenoeg 10% van die gemeenskap aan geringe tot erge gehoorverlies ly. Nagenoeg 4 miljoen mense is Suid-Afrika ervaar meer as 25 desibels verlies in beide ore.
 
Ceronio sê: “Ons leef in ‘n wêreld van klank én geraas. Dit is egter belangrik om ook tyd in te ruim om na stilte te kan luister – en dit te geniet. Voordat jy dalk vergeet hoe dít klink óf dit nie meer kan hoor nie.”
 

 

 

designed & maintained by

D I G I T A L   A L L I A N C E