 |
 |
GERAAS
DIE GEMEENSKAP het die volste reg om te kla oor oormatige geraas en
klankbesoedeling. “Ons moet onsself deur bestaande wetgewing bemagtig en dié
probleem met oorgawe bestry – oormatige geraas is deesdae veral in
woonbuurte toenemend ‘n probleem,” skryf me. A van Lill.
Geraas en klankbesoedeling veroorsaak nie net onmin tussen ouers, kinders,
vriende en bure nie. Dit is ook die oorsaak van verskeie siektes soos hoë
bloeddruk, stress, slaapsteurnisse én doofheid. Van Lill sê: “Geraas is
uiters skadelik vir babas en bejaardes.” Sy meen dat geraasbesoedeling die
gemeenskap die reg tot ‘n vreedsame omgewing ontneem. Klank-irritasievlakke
van mense verskil – net soos die vermoë om hitte of koue anders te kan “voel”,
verskil dít ook van mens tot mens. Die liggaam het ‘n wonderlike klank
waarnemingstelsel. Dit bestaan uit ongeveer 20 000 haarselle in die
binne-oor. Wanneer dié stelsel beskadig word, word ‘n onbetroubare boodskap
na die brein gestuur. Die gemeenskap word daagliks sonder om dit te besef
aan onaanvaarbare hoë vlakke van geraas blootgestel.
Dit is interessant om te verneem dat die Vrystaatse provinsiale regering in
1998 regulasies onder die Wet op Omgewingsbewaring (73/1998) uitgereik het.
Volgens dié regulasie (nommer 24) is oormatige geraas én klank onwettig.
Luidens berigte kan oortreders tot R20 000 beboet óf twee jaar
gevangenisstraf opgelê word. ‘n Eienaar van die eiendom waar die geraas
veroorsaak word, kan dus kragtens die genoemde regulasies vervolg word én
die polisie kan op die klanktoerusting beslag lê.
Volgens kenners word geraasbesoedeling omskryf as enige geraas wat 85
desibels oorskry.
Dit is snags meer steurend as bedags, omdat dit met die nagstilte meeding.
Geraas is dus enige klank wat die breë gemeenskap se vrede versteur. Niemand
mag musiek instrumente bespeel óf klanktoerusting gebruik wat besoedeling
veroorsaak nie.
‘n Groot euwel is ope-lug musiekkonserte. Organiseerders moet skriftelik
toestemming van die stadsraad verkry alvorens só ‘n geleentheid mag
plaasvind. Dié konserte mag nie later as 24:00 duur nie. Dit is egter
kommerwekkend dat ‘n aantal klankversterkers soms by dié geleenthede op
mekaar gestapel word.
Me. Alet Pitchers van Bloemfontein beywer haar sedert 2000 om die gevare van
geraas onder die aandag van die gemeenskap te bring – sy is ‘n ware
kampvegter vir die beskerming van gehoor. “Die onbetrokkenheid van die
gemeenskap is egter verstommend,” sê sy.
Geraas kan binne enkele minute onherstelbare skade aan die mens se gehoor
veroorsaak. Luidens berigte kan die harde musiek waaraan passasiers in
sommige taxis blootgestel word, binne 8 sekondes doofheid veroorsaak.
Gehoorverlies is egter in die meeste gevalle progressief van aard – mense is
nie altyd bewus van die aard van die beskadiging nie.
Daar bestaan kommer oor die gevolge van gehoorverlies – veral by jongmense
en kinders. Dit wil voorkom asof die oorverdowende geraas in winkelsentrums,
restaurante en by skole tydens fondsinsamelingsveldtogte, gelate deur die
gemeenskap aanvaar word.
Die nadelige gevolge van die gebruik van klappers, tromme, geraashorings by
byeenkomste moet na vore gebring word. Is die owerhede bereid om die
neergelegde regulasies af te dwing?
Die Wêreld Gesondheidsorganisasie beweer dat nagenoeg 10% van die gemeenskap
gehoorverlies ervaar. Luidens berigte ervaar nagenoeg vier miljoen mense in
Suid-Afrika meer as 25 desibels verlies in beide ore.
Kenners meen dat die onsensitiewe optrede van belanghebbendes, ‘n bydrae
lewer tot die skep van ‘n hardhorende gemeenskap.
GERAAS 2.
Dit wil voorkom asof oorverdowende geraas in winkelsentrums, restaurante én
by skole tydens geldinsamelingsveldtogte, gelate deur die gemeenskap aanvaar
word. Die nadelige invloed van klappers, tromme en geraashorings word nié
altyd besef nie.
“Alle belanghebbendes moet die neergelegde regulasies in ag neem,” sê mnr.
Deon Ceronio, ‘n oudioloog van Bloemfontein. Ceronio spesialiseer in die
bepaling van gehoorverlies en is ‘n verskaffer van ‘n reeks hulpmiddele vir
mense wat gehoorverlies ervaar.
Geraas is gevaarlik, aangesien dit permanente skade aan veral die binne-oor
kan veroorsaak. Ceronio vergelyk die binne-oor met ‘n mat in ‘n gang. Hoe
meer mense daarop loop, des te vinniger word dit uitgetrap. Hy sê ‘n mat in
‘n gang kan egter vervang word, maar die beskadiging van gehoor is in die
meeste gevalle onomkeerbaar.
Alle klanke hoër as 85 desibels is skadelik vir die mens se oor. Die
blootstelling aan klanke hoër as 110 desibels kan binne 15 minute permanente
skade veroorsaak. Die beskadiging van die gehoorsenu is moeilik waarneembaar.
In die meeste gevalle word aanvanklik slegs ‘n suisgeluid ervaar. Hoewel die
gesuis met verloop van tyd verdwyn, is dit ‘n duidelike aanduiding dat die
gehoorsenu wél beskadig is.
Die waarneming van klank is deel van menswees én die omgewing. Die
vastelling van geraasvlakke in desibels, gee ‘n mens stof tot nadenke. ’n
Sagte klank soos fluister is 15 desibels, ‘n normale gesprek 60 desibels én
straatgeraas wissel tussen 70 en 90 desibels. Die “geraasvlak” van ‘n
grassnyer is nagenoeg 90 desibels, ‘n boeing wat opstyg 140 desibels én
musiek-konserte deurgaans hoër as 120 desibels. ‘n Geweerskoot en vuurwerke
(140 desibels) is uiters gevaarlik én skadelik vir die mens se gehoor.
By volwassenes is daar ‘n aantal gevaartekens wat dui dat ‘n betrokkene wél
gehoorverlies ervaar. Ceronio sê: “Diegene wat dit moeilik vind om gesprekke
in die teenwoordigheid van agtergrondgeraas te volg, die televisie of radio
deurgaans harder moet stel, probleme ervaar om ‘n telefoon, kriek of
deurklokkie te hoor, moet beslis hul gehoor laat toets.” Gehoorgestremdes
verkeer soms onder die wan-indruk dat mense mompel en/of onduidelik praat.
Omdat hulle dit moeilik vind om gesprekke te volg, word gesellighede,
vergaderings, sportbyeenkomste en eredienste eerder vermy.
Die volgende faktore moet in gedagte gehou word om gehoorverlies vroegtydig
by kinders waar te neem: ‘n familiegeskiedenis van gehoorverlies, gereelde
oorpyn en/of -ontsteking, ‘n verkorte aandagspan, kleuters wat op ‘n latere
ouderdom begin praat en/of opdragte onbevredigend uitvoer – veral as daar
geen oogkontak is nie. Die verkeerde uitspraak van woorde én onnatuurlike
optrede in ‘n omgewing met hoë vlakke van agtergrondgeraas (soos byvoorbeeld
in ‘n motor). Wees ook op die uitkyk vir kinders met spelprobleme, wat
harder as gewoonlik praat én wat dit moeilik vind om die rigting van klank
waar te neem.
Sommige vorme van gehoorverlies kan deur middel van chirurgie herstel word.
In ander gevalle kan ‘n gehoorapparaat met groot sukses gebruik word.
Oudioloë doen ‘n reeks toetse om die aard van die probleem én oplossings te
bepaal. “Gehoortoetse kan reeds suksesvol kort ná geboorte (72 uur) gedoen
word,” sê Ceronio.
Die Wêreld Gesondheidsorganisasie beweer dat nagenoeg 10% van die gemeenskap
aan geringe tot erge gehoorverlies ly. Nagenoeg 4 miljoen mense is
Suid-Afrika ervaar meer as 25 desibels verlies in beide ore.
Ceronio sê: “Ons leef in ‘n wêreld van klank én geraas. Dit is egter
belangrik om ook tyd in te ruim om na stilte te kan luister – en dit te
geniet. Voordat jy dalk vergeet hoe dít klink óf dit nie meer kan hoor nie.”